Bonatuurlike Verskynsel?

In die begin van die 60s is my pa opgeneem in ‘n Krugersdorp Hospitaal vir ‘n bloedklont in die been en sy regter groottoon is in die proses geamputeer. Met daardie jare se mediese tegnologie en kennis het tot gevolg gehad dat my pa vir ‘n maand in die hospitaal was. In sy 2 de week in die hospitaal het my pa elke aand, vir ‘n week lank, in die vroeë oggendure ‘n besoek gehad van ‘n verpleegster met die naam van Sanet, haar van kan ek nie onthou. Hierdie Sanet was baie vriendelik en dit het vir my pa voorgekom of sy werklik omgee vir hom as pasient. Na die week het Sanet nie weer opgedaag nie en my pa vra so 3 dae later die dagpersoneel wanneer Sanet weer op diens sal wees. My pa beskryf dat hy die gevoel gekry het dat die dagpersoneel hom baie snaaks aangekyk het. Later die dag kom die matrone na my pa met iets wat lyk soos ‘n personeelleêr. Die matrone wys toe my pa ‘n foto op die leêr wat hy sonder aarseling herken as die verpleegster Sanet. Die matrone wys my pa toe ook ‘n koerant uitknipsel van waar die Sanet deur ‘n motor raakgery is en sy is opslag dood. Die ongeluk het gebeur omtrent ‘n jaar voordat my pa in die hospitaal was.

Ek was maar so 6 jaar oud met hierdie voorval. Ek ken nie Krugersdorp nie so ek weet nie of die hospitaal nog bestaan nie. Ek kan onthou daardie jare was die hospitaal alreeds ‘n ouerige gebou.

My pa was ‘n baie ernstige mens en sou nooit ‘n verhaal soos hierdie opmaak of ooit oor die bonatuurlike spot nie.