My Verhaal

Die doel van hierdie verhaal is definitief nie om mense bang te maak of selfs net ‘n krieweling langs die ruggraat te gee nie. Glo my as ek ‘n storie wil skryf om mense bang te maak, kan ek ‘n baie beter storie opdis as wat die geval is met hierdie verhaal. Ek probeer hier net die feite na 25 jaar so korrek as moontlik weer te gee van wat ek ervaar het.

Agtergrond van my wedervaringe:

Sowat 25 jaar gelede het ek ‘n huis gekoop in Wonderboom Suid in Pretoria. Die huis was nie nuut nie maar was in ‘n goeie toestand en baie gerieflik en groot. Vir die wat die omgewing ken, die huis is geleë in 14 de Laan tussen De Beer en Naude Strate. Ek kan nie meer die huis se nommer onthou nie. Vanaf die sitkamer is daar ‘n redelike lang gang, eers kry jy die eerste slaapkamer dan die hoofslaapkamer dan loop die gang tot by die derde slaapkamer waarna die gang ‘n regsdraai maak na die toilet en badkamer. Saam met my het ‘n vriendin Annetjie en haar seun Pierre van so 8 jaar oud in die huis gewoon. Van ons vriende was ‘n paartjie Greg en Mandy met ‘n dogter van ook so 8 jaar oud wat gereeld kom kuier het. Ek noem almal se name want ek het niks om weg te steek nie.

Hier is wat onder andere gebeur het:

1. Die seun Pierre wat in die derde kamer geslaap het, het elke dag na skool direk huis toe gegaan en was alleen totdat ons by die huis gekom het. Elke aand kla hy dat snaakse dinge deur die middag gebeur. Eers vertel hy dat hy ‘n kind hoor die gang af draf en hy hoor hoe daardie kind met ‘n bal speel (dribble). Op ‘n ander dag vertel hy dat wanneer hy op die toilet sit kan hy vir ‘n hele ruk nie opstaan nie, hy vertel dit is asof iemand hom op die skouers afdruk. Op ‘n ander tyd vertel hy dat terwyl hy sy huiswerk doen hoor hy iemand stort maar sodra hy in die badkamer kom dan is daar niemand nie. Ek het regtig geglo hierdie kind is besig om allerhande stories op te maak om aandag te trek. So kom dit dat ek een Vrydagmiddag vroeg van die werk af huis toe gaan. Ek was besig in die studeerkamer toe die seun my kom roep dat iemand weer stort. Toe ek in die gang afstap hoor ek duidelik hoe die water in die stort loop. By die badkamer gekom was die deur toe maar sonder enige twyfel was iemand besig om te stort. Met die oopmaak van die badkamerdeur was dit asof iemand vinnig die stort se krane toedraai. Ek pluk die gordyn van die stort oop, daar was niemand nie en die stort was kurkdroog.

Die kind wat met die bal speel het ek nooit ervaar nie.

Die seun Pierre het nog vir maande hierna so nou en dan gemeld dat hy nog steeds die stort hoor asook die kind wat met die bal speel.

2. Een aand het Greg en Mandy by ons gekuier. Greg is badkamer toe en met sy terugkeer kon ek sien hy is spierwit in die gesig. Hy vertel toe dat terwyl hy verby die eerste slaapkamer stap het daar ‘n ysige wind vanuit die slaapkamer gewaai en dat die wind so sterk was dat hy skaars kon loop. Met Greg se terugkeer vanaf die badkamer het hy dieselfde wind weer uit die slaapkamer ervaar.

Hierdie slaapkamer was net gebruik om goed in te stoor. Die vensters van hierdie kamer was permanent toe en die gordyne was toegetrek. Die spesifieke aand wat Greg die yswind ervaar het was vroeg in Januarie en daar het geen wind buite gewaai nie. Inteendeel daardie aand was ‘n besonderse bedompige aand.

3. Een Saterdag het Greg en Mandy die aand by ons gekuier. Die twee kinders het papier gevra om prentjies te teken en hulle was daarmee besig in die derde slaapkamer. Eens hoor ons ‘n slag in die kombuis. Die geluid was onmiskenbaar afkomstig van iemand wat ‘n bondel messe en vurke met een slag in die sink gooi, nie neersit nie, nee soos in behoorlik gooi. My eerste gedagte was die kinders is besig om droog te maak in die kombuis. Ek en Greg vlieg op en is kombuis toe. Daar was niemand in die kombuis nie en daar was niks in die sink nie. Nie eers ‘n koppie of ‘n teelepel was in sig nie.

Enige iemand wat wil weet hoe het die slag wat ons gehoor het klink, vat ‘n handvol messe en vurke en gooi dit in ‘n leë sink. Daardie geluid is uniek en kan nie maklik verwar word met ‘n ander geluid nie. Ons het toe vir Greg en Mandy vertel dat ons vermoed daar gaan dinge in die huis aan waarvan ons nie regtig van wil weet nie of nie maklik oor praat nie.

4. In Februarie van dieselfde jaar word ek eenkeer in die vroeë oggendure wakker van ‘n dansende oranje lig in die gang. Ek besef meteens die huis is aan die brand. Ek het vinnig opgestaan en in die gang afgekyk en gesien die brand is in die kombuis. Ek het dadelik vir Annetjie wakker geskud en ek hardloop kombuis toe. In die kombuis was daar ‘n vlam van maklik ‘n meter hoog op die werkgedeelte van die sink. Instinktief gryp ek ‘n potplant van die kombuiskas af en gooi die grond op die vlam. Gelukkig het die grond die vlam geblus.

Toe ons tot verhaal kom en gekalmeer het vind ons uit dat die plastiese elektriese ketel wat op die werkoppervlak van die sink gestaan het, het aan die brand geraak. Die ketel was die vorige aand omstreeks 21:00 laas gebruik en daar waar dit op die sink aan die brand geraak het, was die ketel nie by ‘n kragpunt ingeprop nie, inteendeel die naaste kragpunt is sowat 3 of 4 meter weg van die sink. Daardie aand was daar ook geen donderweer wat dalk die ketel aan die brand kon laat slaan het nie.

Behalwe vir ‘n brandkol op die sink en die muurteëls wat bietjie swart was van die roet, was daar gelukkig geen ander skade nie.

5. Vir maande lank het ek met tussenposes van sê een maal per week, partykeer ‘n bietjie langer, deur die nag wakker geword omrede ek bewus was het dat daar iemand in die kamer is. Ek het ‘n meisie gesien met skouerlengte blonde hare. Sy was aantreklik en ek het die indruk gekry sy was nog baie jonk, miskien so tussen 18 en 20 jaar oud. Die meisie was heeltemal nakend. Wanneer ek haar gesien het, het sy elke keer presies op dieselfde plek gestaan en dit was by die laaste deur van ‘n ry ingeboude hangkaste. Sy het met haar rug na die hangkas gestaan en so skuins oor die slaapkamer gekyk. Ek kon nooit dink waarna die meisie spesifiek in die kamer sou kyk nie, al wat ek weet sy het nooit in my rigting gekyk nie, dit was asof sy nie bewus was dat ek in die kamer was nie. Elke keer wanneer ek haar sien, staan sy net vir ‘n sekond of 3, dan loop sy in die rigting van die venster maar voordat sy by die venster kom, is dit asof sy eenvoudig net in die muur langs die venster in verdwyn. Van waar ek haar sien staan tot by die plek in die muur waar sy verdwyn, is ongeveer 2.5 meter. Hierdie afstand van 2.5 meter het sy geloop, sy het beslis nie gesweef nie. Die hele proses van die oomblik wat ek haar sien totdat sy verdwyn, het nie meer as 10 sekondes geneem nie.

Die dag nadat ek die meisie vir die eerste keer gesien het, het ek vas geglo dat ek maar net ‘n wonderlike droom gehad het. Maar hier na die 5 de keer wat ek die meisie gesien het, het ek besef dat ek elke keer helder wakker was. Ek het ‘n punt daarvan gemaak om elke keer wanneer ek die meisie sien, te kyk hoe laat dit was. Die tye was gereeld tussen 02:00 en 03:00. Ek het dan ook opgestaan en soms badkamer toe gegaan en soms het ek vir my ‘n glas water in die kombuis gaan haal. Glo my hierdie dinge doen ek nie in my slaap nie! Ek het die meisie plus minus 20 keer gesien.

Ek was nooit ooit bang as ek die meisie sien nie want sy het absoluut die indruk van rustigheid geskep. Die meisie het ek nooit voorheen in die werklike lewe ontmoet nie en sy het my ook nooit aan iemand laat dink wat ek moontlik al voorheen gesien het nie.

Slotsom:

Daar was ander kleiner voorvalle maar ek het my nie daaraan gesteur nie omdat van die voorvalle verduidelik kon word en ander was waarskynlik net ons verbeelding. Na 2 jaar wat ek die huis gekoop het, is ek Johannesburg toe verplaas en het ek die huis verkoop. In my lewe voordat ek hierdie huis gekoop het en tot vandag nadat ek die huis verkoop het, het ek nog nooit met enige bonatuurlike verskynsels te doen gehad nie. Om die waarheid te sê ek glo nie aan sulke verskynsels nie. Ek weet nie of vorige bewoners van hierdie huis ooit enige ervarings gehad het nie. Maar met wat ek in hierdie huis ervaar het, ek weet darem nie…

Almal is welkom om kommentaar te lewer of vrae te vra of indien jy jou eie verhaal wil vertel en publiseer is jy welkom om die “Kommentaar vorm” te gebruik deur op die linkerkant op die betrokke funksie te kliek.

This story can also be read in different languages by using the translation function on the left.